Tuesday, January 08, 2013

 

Beleid ten opsigte van buitelands geregistreerde voertuie in Suid-Afrika

Hopetown - Gedurende 2011 en 2012 is verskeie buitelands geregistreerde voertuie, veral voertuie wat in Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland geregistreer is, in Suid-Afrika gekonfiskeer en die bestuurders daarvan is beboet.
Burgers van Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland wat hul buitelands-geregistreerde voertuie op Suid-Afrikaanse paaie bestuur, hoef nou vir eers nie meer bekommerd te wees dat hulle heftige boetes vir die motors opgelê gaan word nie, of dat hul voertuie gekonfiskeer gaan word nie.
Volgens Leon Marais, ’n onafhanklike doeane-konsultant, het die probleem onder sy aandag gekom toe Namibiese burgers wat in Suid-Afrika woon, werk of studeer, in Suid-Afrika beboet is omdat hulle nie tydelike invoerpermitte vir hul motors het nie.  Die Namibiese koerant, die Republikein het die probleem onder sy aandag gebring, en verskeie berigte na aanleiding van die probleem het in die koerant verskyn gedurende November en Desember 2012.
Die Republikein het onlangs berig dat bekommerde Namibiese vakansiegangers verwoed rondgeskarrel het om meer inligting oor die tydelike invoerpermitte vir hul motors wat by Suid-Afrikaanse grense verkry moet word te bekom.  Sien berig "Chaos met Namibiese motors op SA-grense".
Volgens die koerant het sommige Namibiërs - veral in Kaapstad -  onlangs oor tydelike invoerpermitte met die gereg gebots. “In enkele gevalle is Namibiese studente se motors by padblokkades deur verkeers- of polisiebeamptes gekonfiskeer omdat hulle nie ’n tydelike invoerpermit kon toon nie.”
Van die studente is volgens die berig boetes opgelê en moes hul voertuie die land uit neem.
Marais het onlangs gesê die situasie het op 30 November 2012 verander as gevolg van ’n wysiging aan ‘n beleidsdokument van die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens, SARS getiteld 77902_SC-PA-01-11_Traveller Processing External Policy gedateer 30 November 2012. 
Bladsy 3 paragraaf 2.1(g) van die beleidsdokument het betrekking. Die gedeelte in rooi is gewysig, en dui aan dat voertuigbestuurders wat Suid-Afrika deur grensposte met voertuie wat in nie-Suider-Afrikaanse Doeane Unie lande geregistreer is binnekom, hul voertuie vir tydelike invoer moet registreer.  By implikasie het bestuurders van SACU-geregistreerde voertuie dus nie nodig om hul voertuie vir tydelike invoer te registreer nie.   
Volgens Marais het motors van inwoners van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Southern African Customs Union (SACU)) dus nou nie meer tydelike invoerpermitte nodig vir hul motors nie. Die Suider-Afrikaanse Doeane-Unie sluit Suid-Afrika en Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland (BLNS) in.  Die bestuurders van ander buitelandse voertuie wat die RSA by grensposte binnekom, moet egter hulle voertuie vir tydelike invoer registreer.
Marais het gesê wysingings aan die beleidsdokument het al die vorige vereistes ten opsigte van doeanebeheer oor passasiers en goedere wat hulle vergesel vir gebruik tydens hul verblyf in die RSA gewysig, en motors uit die BLNS-lande, Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland sal nou onbepaald in Suid-Afrika kan bly.
Marais het gewaarsku dat hierdie beleidsdokument ten opsigte van burgers van die BLNS-lande is wat hul voertuie vir eie gebruik na die RSA bring, en dat dit slegs geldig is vir solank hulle burgers van hierdie lande in Suid-Afrika bly. Sodra die inwoners Suid-Afrikaanse burgers word, moet die voertuie in Suid-Afrika registreer word. As die inwoners terugkeer na hul lande van oorsprong, moet hul voertuie saam met hulle die land verlaat. Voertuie met BLNS registrasie nommers mag dus nie aan Suid-Afrikaanse burgers verkoop word, of selfs deur Suid-Afrikaanse burgers op Suid-Afrikaanse paaie bestuur word nie.
Marais het voorts gewaarsku dat wetgewing normaalweg met min of geen voorafkennisgewing gewysig word, en dat belanghebbendes die “What’s New” afdeling van die SARS webblad www.sars.gov.za moet dophou vir wysigings en hulle moet vergewis van die implikasies met betrekking tot wysings aan wetgewing ten opsigte van reisigers en goedere wat hulle vergesel
Marais het gister gesê hy sal intussen mense aanraai om ’n afskrif van die nuwe beleidsdokument te maak en by hulle in hul voertuie te hou. Die dokument kan by www.sars.gov.za afgelaai word. “Die doeanereëls moet saam met die wysiging van 30 November 2012 gelees word,” het hy gesê.

NOTE: English post entitled "Policy in respect of foreign registered vehicles on South African roads" will be published soon.





Comments: Post a Comment

<< Home

This page is powered by Blogger. Isn't yours?